Hoe maak ek as ek my kind wil laat doop?

Die doop is nie ‘n teken van ons eie geloof in die eerste plek nie, maar eerder ‘n teken van God se ewige belofte aan ons. Dit word ook die verbondsdoop genoem, omdat dit ‘n teken is van God se verbond (belofte) aan ons. Die verbond is ‘n belofte wat God aan Abraham duisende jare gelede gemaak het toe God belowe het om Abraham en sy nageslag se God te wees. Vandag vier ons die genade dat ons ook hierdie belofte van God af ontvang, want deur Jesus is ons elkeen ook nou deel van God se verbondsfamilie. Die doop is nie iets wat ons verdien nie, maar ‘n viering van die geskenk wat ons van God af kry.

Indien ouers hulle kind(ers) wil doop, moet die aansoek ten minste ses (6) weke voor die doopdatum ingehandig word. Ouers sal ook gevra word om ‘n doopgesprek by te woon.

Hoe maak ek wanneer ek aangeneem wil word/ belydenis van geloof wil aflê?

By Vier Ankers het ons ‘n jaarlikse belydenisgroep wat elke Sondag ná die oggenddiens in die kerkruim bymekaar kom. Daar gesels ons oor verskeie onderwerpe soos die Bybel en hoe ons die Bybel lees en verstaan. Ons gesels ook oor God, die Drie Eenheid en ons reis saam met God deur die lewe. Indien jy belydenis van geloof wil aflê by Vier Ankers, raai ons aan dat jy by hierdie groep aansluit elke Sondagoggend.

Indien jy al ouer is en nie elke Sondagoggend by die kerk kan uitkom nie, sal ds. Roelf (wat verantwoordelik is vir ons gemeente se geloofsvorming) ‘n paar sessies met jou deurwerk oor wat ons graag wil hê jy moet weet en leer voor jy belydenis aflê.

Ons het gewoonlik een belydenisafleggingsgeleentheid per jaar wat in November plaasvind, maar daar kan ook verskeie ander geleenthede geskep word indien dit nodig is.

Hoe maak ek as ek die kerk se fasiliteite wil bespreek?

Ons huur graag ons fasiliteite vir funksies uit so ver dit moontlik is. Indien jy graag ‘n lokaal, die saal of kerkruim wil gebruik, vul asb. die fasiliteite vorm in en stuur dit vir die aandag van Daleen Bruyns na vierankers@absamail.co.za.

Hoe maak ek wanneer ‘n geliefde sterf?

Wanneer iemand naby aan jou sterf, is daar skielik baie take wat jou aandag vereis en verrig moet word. Hieronder is ‘n kort opsomming wat jou deur hierdie moeilike tyd kan help:

  • Indien die dood onverwags intree, skakel die nooddienste om ‘n ambulans te ontbied.
  • Indien die persoon aan onnatuurlike oorsake oorlede is, ontbied die polisie, waarna ‘n nadoodse ondersoek gedoen sal word.
  • Skakel ‘n begrafnisondernemer wat alles rondom die begrafnis of verassing sal hanteer.
  • Skakel die oorledene se lewensversekeringsmaatskappy.
  • Kry die volgende belangrike dokumente bymekaar:

–  Testament

–  Doodsertifikaat

–  Geboorte- en huweliksertifikaat

–  ID-dokumente

–  Aktes en besigheidsooreenkomste

–  Belastingopgawes, inkomstestate en rekeninge

–  Voertuigregistrasiedokumente en bankrekeninge

–  Leningooreenkomste

–  ‘n Foto van die oorledene vir die begrafnisbrief

Wees ook voorbereid op onvoorsiene uitgawes en hou in gedagte dat dit soms meer as ‘n jaar lank kan duur voordat die proses afgehandel is. Baie belangrik – sien om na jouself en jou gesin, maak gebruik van jou ondersteuningsnetwerk en maak voorsiening vir die rouproses.

Hoe maak ek as ek besoek wil word/iemand wil sien?

In Vier Ankers besoek ons graag lidmate en daar is verskillende maniere om vir ’n besoek te vra. Enige versoeke om ’n leraar te sien, kan aan die kerkkantoor gerig word deur ’n oproep na 016 976 7500 gedurende kantoorure of deur e-pos te stuur aan vierankers@absamail.co.za. Neem asseblief die vrymoedigheid om met die leraar self te skakel indien daar noodgevalle is. Ons het verder ’n wonderlike besoekspan wat veral graag lidmate in hospitale besoek en versoeke hiervoor kan ook aan die kantoor gerig word. Die gemeente beskik oor die dienste van ’n maatskaplike werker en afsprake met haar word ook deur die kerkkantoor hanteer.