In die 90’s het ‘n aantal NG-gemeentes in die Ring van Sasolburg besef dat dit noodsaaklik is om ingrypende veranderinge te maak aan die bediening deur die NG Kerk in Sasolburg. Na baie samesprekinge het vier gemeentes besluit om hulle deure te sluit en saam een, nuwe gemeente te stig. In die soek na ‘n nuwe naam is daar besluit op die naam “Vier Ankers.” Die vier samestellende gemeentes was nie verlore dryfhout wat nou iewers saam uitgespoel het nie; elke gemeente was geanker in die Here en dit wat gebeur het was sy pad vir die gemeentes om saam te loop. Elke geankerde kerk het sy eie geskiedenis met die Here saamgebring na die nuwe gemeente en met hierdie gekombineerde geskiedenis pak die vier gemeentes as een die toekoms saam aan. Die naam sou aandui dat ons vier keer in Christus geanker is en met sekerhied saam met Hom die toekoms aandurf. Een van die gemeentes het egter op die nippertjie aan die proses onttrek en net drie van die gemeentes het saam Sasolburg-Vier Ankers gevorm.

Die gemeente Sasolburg-Vier Ankers het op 1 Januarie 2000 ontstaan met die samesmelting van die drie gemeentes: Sasolburg, Sasolburg-Wes en Sasolburg-Noord. Die nuwe gemeente het homself daartoe verbind om ’n gemeente te wees wat daarop ingestel is om, behalwe die gewone diens aan sy lidmate, ook die belange van die gemeenskap waarvan hy deel is, op die hart te dra. Die gemeente se naam dui immers op die feit dat daar slegs een Rots is, Jesus Christus, die enigste Anker en Fondasie vir elke kind van die Here. Die gemeente is in hierdie Rots geanker deur die vier gereformeerde ankers naamlik deur (1)die geloof alleen, (2)die genade alleen, (3)die Skrif alleen en (4)in Christus Jesus alleen.