Die kerk se boodskap kan nooit verander nie en word nooit verander sodat dit by mense aanpas nie. ‘n Kerk wat egter nie by die omstandigehde en situasie waarin hy is kan aanpas nie, sal nie lank oorleef nie. Vir gelowiges kan daar geen sprake wees dat die kerk deur eie aksies, harde werk, slim planne of enige ander inspanning sy werk kan doen nie. Dit gaan oor mense wat God leer ken, bewus word van hulle sonde, dit met berou bely en dan die vreugde van vergifnis ervaar. Al die aksies van die gemeente moet hierop alleen gemik wees.

Unieke Roeping

Vier Ankers het gou besef dat ons op ‘n baie spesiale tyd van die wêreld en in ons land se geskiedenis geroep is om God se kerk te wees. Ons is juis in hierdie tyd, op hierdie oomblik, in Sasolburg, ‘n Gereformeerde kerk. Die gemeenskap kry swaar a.g.v. werkloosheid en afleggings by maatskappye, regstellende aksie wat baie lidmate direk raak, misdaad wat al hoe meer geweldadig word, ‘n ouer en armer wordende Afrikaanse gemeenskap.

Die uitdagings wat aan die kerk gestel word dwing die gemeente om nie saam met die wêreld moedeloos te raak nie, maar hoop te bly bring. Deur gebede, veranderings, beplanning en ‘n volgehoue verhouding met die Here, hoor die gemeente dat die Here deur Sy kerk op praktiese maniere in ons wêreld wil ingryp, deur dinge soos werkskepping, die aanleer van lewensvaardighede en die uitdeel van basiese middele, soos kos en klere om te kan oorleef. Die gemeente wil betrokke wees deur hulp aan lidmate in die hantering van rassisme van hulleself en ander, hulp en ondersteuing in die hantering van trauma en die berading van indiwidue en groepe. Ons kan glad nie voorgee dat ons al baie ver gevorder het op hierdie pad waarop die Here ons geroep het nie, maar gehoorsaam aan Hom, volg ons Sy leiding en is ons baie bly om te kan sê dat Hy ons seën en dat ons tree vir tree vorder om al hoe meer te wees wie ons alreeds is: Kinders van die Here, wat Hom as gemeente aanbid as vrygemaaktes.

Na wie stuur die Here ons?

In die eerste plek wil die Here die gemeente gebruik vir die volgehoue groei van die lidmate wat getrou is en alreeds betrokke is by die aksies van die kerk. Hierdie “opbou” van die gemeente moet egter aangevul word deur die gestuurheid van die gemeente in ‘n “uitbou”-aksie wat fokus op diegene wat nog nie ‘n verhoudng met die Here het nie, of nie meer ‘n verhouding met Hom het nie. Dit beteken dat die Here die gemeente stuur na mense in die gemeente en gemeenskap. Na binne wil ons die mense wat lidmate is help om hulleself drie vrae te vra. Elke vraag lei dan tot ‘n eie unieke manier waarop die gemeente kan reageer:

  • Is jy seker van jou verhouding met die Here? Indien nie, is dit die gemeente se taak om jou daarmee te help. Indien wel, is die volgende vraag:
  • Groei jy daagliks in jou verhouding met God? Indien nie, is daar gemeenteaksies wat op lidmate se groei gerig is. Hierdie aksies wil lidmate in hulle eie unieke behoeftes ondersteun om nie net die Bybel te lees, te bid en kerktoe te kom nie, maar om as mens heel te wees en in hulle menswees en verhouding met God te groei. Indien jy sê dat jy wel geestelik groei, is die volgende vraag:
  • Waar dra jy vrug? Ons verhouding met God was nooit daarop gerig om net van onsself beter mense en kinders van die Here te maak nie, maar om dan met hierdie nuwe lewe na ander mense uit te reik deur aksies in die gemeente én deur die dinge wat ons daagliks besig hou.

Na buite fokus die gemeente op ‘n gemeenskap in nood, mense wat ly onder sosiale uitdagings, mense was kerkloos is en dalk nie ‘n verhouding met God het nie en Christene wat deur die kerk seergekry het en nie meer by ‘n kerk betrokke wil wees nie. Om uit te kom by dit waarvoor die Here die gemeente geroep het, het ons ons roeping in unieke wardes opgesom:

Vier Unieke waardes

Oor die loop van ongeveer drie jaar het die kerkraad en gemeente na die Here geluister om te hoor wat die roeping van Vier Ankers is. Afgesien van die vier gereformeerde waardes, het die Here die gemeente geseën met vier eie waardes waarop ons die bediening in Vier Ankers baseer. Met Matteus 11:25-30 as uitgangspunt is die gemeente se waardes:

  • Gasvry

“Almal wat uitgeput en oorlaai is” is welkom om deel te hê aan die Goeie Nuus soos wat die gemeente dit in woord en daad uitdra en toepas. Stukkende sondaar mense moet by die gemeente iets ervaar van Jesus wat “sagmoedig en nederig van hart” is. Vreemdes, of hulle wat “anders” is, moet verwelkom word en uiteindelik tuis voel.

  • Ondersteunend

As mense by die gemeente is, wil ons mekaar help en ondersteun om van Jesus te leer sodat ons saam kan deel aan die “rus” wat Hy gee. Ons dra daarom mekaar se laste en help mekaar om die jukke van die wêreld af te gooi en “rus te kry vir julle gemoed.”

  • Aktueel/Relevant

Ons wil ons bediening bou op die Skrif soos wat dit tradisioneel deur Gereformeerdes verstaan is, maar op ‘n aktuele manier wat sin gee vir hiérdié oomblik in tyd. Ons luister na God se Woord met die belofte en waarskuwing in Jesus se woorde dat “hierdie dinge” vir “slim en geleerde mense verberg” is en aan “eenvoudiges bekend” gemaak is. Ons soek na God se “genadige bedoeling” vir ons, vir vandag, in die Bybel.

  • Vierend

Met die twee feeste van die doop en nagmaal vier die gemeente die sekerheid van ons geloof in ons Verlosser.As ons na Hom toe kom en Hy gee ons rus en vrede ne verwyder ons sware laste, en bind ons in ‘n warm gemeenskap van gelowiges saam, kan ons nie anders nie as om saam met Jesus die “Vader, Here van hemel en aarde” te prys oor Sy genade en liefde.

Struktuur vir die werk

Alles bly egter net woorde as dit nie uiteindelik prakties raak nie. Uit die gemeentebou-aksie, Aksie Nehemia, het dit duidelik geword dat daar ‘n baie groot behoefte by lidmate is om kontak te behou met die kerk, maar dat kommuikasie nie altyd vlot verloop nie. Daar is ‘n groot tekort aan werkers en die boodskap wat die kerk uitdra bereik nie al die huisgesinne van die gemeente nie. Mense wil baie graag by hulle huise besoek en bedien word. Die eredienste en samekomste van die gemeente word deeglik beplan en moet stylvol verloop, maar die gemeente moet deeglike aandag gee aan die bediening van lidmate en gesinne in hul wonings. Die fokus van die gemeente is altyd die eer van God alleen. Hierna is die fokus op mense, of anders gestel, die wêreld vir wie God liefhet. Al die gemeente se aksies, gemeet aan die vier unieke waardes, is gefokus daarop om mense te bereik sodat hulle God kan ken en met Hom ‘n gesonde verhouding kan hê, Sy naam geëer kan word en Sy koninkryk in ons dorp kan aanbreek.