In hierdie week wat voorlê hou ons ons gereelde Pinksterbidure. Ons hou soggens om 9:30 en saans om 18:00 biduur. Die oggendbidure word na die ouetehuise en op YouTube uitgesaai. Na afloop van die bidure by 4 Ankers kuier ons saam met sop en broodjies.

In die week wat kom wil ons saam bid oor die tema van die gemeente se aksies vir die jaar. Ons jaartema is Opgebou vir God, vir mekaar en vir die wêreld. Die beeld van bouwerk is ’n baie bekende beeld in die Bybel. Die kerk is God se bouwerk. Ons is ’n gebou wat deur God op-gerig word en ons is die liggaam van Christus. ’n Liggaam wat gebou word om sterk, fiks en volwasse te wees vir ons roeping in die wêreld.

Die gebruik om van Hemelvaart tot Pinkster bidure te hou is baie jare oud en die fokus was destyds op herlewing. Dit is nie altyd maklik om te weet wat herlewing vir almal oor die jare beteken het nie. Miskien het dit vir baie mense net ’n betekenis gekry van ’n eie, persoonlike nuwe ervaring van God. Dit is egter nie waaroor Pinkster gaan nie. Ons bid vir die bouwerk van God se kerk met die oog op die wêreld, sodat ons hoop kan bring.

Maandag – Bouwerk vra gehoorsaamheid
Dinsdag – Opgebou vir God
Woensdag- Opgebou vir mekaar
Donderdag – Opgebou vir die wêreld
Vrydag – Opgebou vir hoop vir die toekoms